Op Donderdag 8 Oktober het ons vroeg oggend die N7 aangedurf in die rigting van Clanwilliam waar ons by De Pakhuis tuis gegaan het. Dis die jaarlikse "Wheels for Wheels Campaign". Met behulp van 'n terapeut het ons al die pasiënte besoek, die nodige verstellings aan die rolstoele gemaak sodat dit aan elkeen se behoetes sal voorsien. Die rolstoele word dan terug gebring na Kaapstad waar die laaste veranderinge aangebring word en voorberei word vir die groot oorhandiging op Saterdag 17 Oktober 2009
Ons eerste stop was Citrusdal Kliniek, daar het ons Lena Boer en Glendrino Fransman ontmoet.
Glendrino is n jong seun wat deur sy moeder versorg word en was nie te ingenome met die vreemde mense wat hom van stoel tot stoel geskuif het nie, maar met die hulp van sy moeder kon ons alles vinnig afhandel sodat hy weer rustig en gemaklik kon wees. Lena Boer is 'n bejaarde vrou wat vergesel was deur haar dogter wat seker gemaak het dat "ma in goeie hande is".
Van daar het ons n draai gemaak in Clanwilliam by Katriena Dyssel. Met haar beseerde been het sy baie geduld aan die dag gelê sodat haar stoel verstel kon word, sy was voorwaar n ster al kon jy sien dat sy baie pyn verduur het.
Terug op die pad...in die rigting van Graafwater waar Natasha Mouton ons ingewag het by die kliniek. Sy is maar net nege jaar oud en kan nêrens sonder haar rolstoel gaan nie, want sien, Natasha kan glad nie loop nie. Haar rolstoel het baie verstellings nodig gehad en sy was maar tog te gewillig om van arm na arm te gaan terwyl sy toekyk hoe haar nuwe rostoel verstel word.

Nou is dit Elandsbaai. By die kliniek was dit doodstil, maar dit het ons nie gekeer nie. Ons moes net vir Richard Watala in die hande kry. Die kinders in die buurt het ons gou reg gewys en vinnig was ons voor Richard se deur. Dit was n gemeet en pas, maar die rolstoel is vinnig verstel en Richard was in sy noppies.
By Klawer aangekom het ons gery na waar Maria De Wee en Oom Koos op ons gewag het. Maria is 'n bejaarde vrou wat saam met haar 82 jarige man woon. Sy is afhanklik van haar rolstoel om by die kliniek te kom aangesien sy baie swak loop.
By Ebeneazer het die opgewonde 42 jarige Janine Hahn ons by die deur ontvang. Sy was oorstelp van vreugde en kon die trane nie keer nie. Sittend in haar stoel het sy n paar "rylesse" gekry by die terapeute. Dit is haar eerste rolstoel. Sy is vroeg in haar lewe met veelvoudige sklirose gediagnoseer en het na dit alles nog 3 beroertes ook gehad. Sy het met baie moeite met n "loopraam" oor die weg gekom. Groot was die verbasing op haar gesig toe sy skielik baie vrylik en gemaklik met haar rolstoel oot die weg kon kom.
In Koekenaap was dit Dawid Stewe en "Doortjie" se beurt. Oom Dawie was die ene geduld terwyl sy rolstoel verstel word. Doortjie het al met die stofpad aangekom met haar verweerde rolstoel. Vinnig vinnig het sy haarself verplaas na die nuwe rolstoel en ons moes net keer want Doortjie kon nie glo hoe die "Jeep stoel" in die sand kon ry nie. Volgens die gemeenskap van Koekenaap is sy die "boffin" as dit by "rolstoel ry" kom.
"Wheels for Wheels Delivery Rally" - 16 tot 18 Oktober 2009

Dis Vrydag middag, alles is gepak,ons is reg om te ry en weereens durf ons die besige N7 aan, want die groot oomblik het aangebreek om die rolstoele af te lewer. Vrydag middag het ons stuk stuk by De Pakhuis aangekom. Van ons het gekamp en van ons het in Chalets tuis gegaan. Die vleisie was gebraai en dit was vroeg bed toe want môre is die groot dag.
Vroeg Saterdag oggend het almal bymekaar gekom. Rolstoele en aanwysings is aan almal
gegee. Die groep foto het die oomblik van waarheid bevestig en ons is almal ons eie rigting in. Mannie en sy vrou Linda het saam met hul dogter, Cindy en haar man Katriena se rolstoel afgelewer. Die oomblik was vir Katriena te groot en sy kon nie die trane keer nie. Skielik was sy "vry" om te kom en gaan soos sy wil sedert sy haar besering opgedoen het.
Mannie en sy span het ook Lena se rolstoel oorhandig. Groot was haar verbasing toe dit eers 'n week "later" as wat sy verwag het by haar afglewer is. Sy was nietemin opgewonde en baie dankbaar oor haar nuwe rolstoel wat sy gekry het. (sy het ons verkeerd verstaan oor watter Saterdag sy dit sou kry en het gedink dit was die Saterdag na die "meet en pas" van haar rolstoel die vorige week).
Glendrino was netso opgewonde en sy moeder het reeds vir Mannie en sy span ingewag. Weereens was hy nie tevrede met al die vreemde mense nie maar 'n foto (van homself) wat hulle vir hom gegee het het die ys gebreek en vinnig was hy rustig.
Mark Esterhuizen het Natasha se rolstoel vir haar geneem. Sy was opgetof en netjies uitgevat vir die okasie. Haar maatjies het nie te ver daarvandaan die hele petalje dopgehou. Die mans was aan die hare sny om reg te wees as die groot oomblik aanbreek. (Hulle het verwag dat die aflewering heelwat later die middag sou wees).
Craig het Richard se rolstoel afgelewer. Hy was nie tuis met Craig se aankoms nie, maar die bure het hom vinnig gaan roep en in 'n japtrap was hy reg om sy nuwe rolstoel te ontvang. Hy kon nie genoeg dankie sê nie en die dankbaarheid was baie duidelik op sy gesig en glimlag te sien.
Kate (terapeut) en haar man het Dawid en Doortjie se rolstoele gaan oorhandig. Hulle was baie ingenome met die nuwe rolstoele en Doortjie het haarself voorgeneem om vir Oom Dawie 'n paar "rylesse" te gee en om hom bietjie touwys te maak met die nuwe rolstoel.
Theuns en sy vrou,Zanie, het Maria se stoel oorhandig. Die dankbaarheid het oom Koos so oorweldig dat hy 'n traan moes pik. Maria het met hartlikheid haar dank betoon. Die glimlag en dankbaarheid kan in woorde nooit beskryf word nie.
Jan Kotze was ongelukkig in die hospitaal toe ons daar was om die rolstoele te verstel so hy het nie sy stoel ontvang saam met die ander pasiënte nie. Die terepeute sal hom by sy huis gaan besoek en seker maak dat hy sy rolstoel sal ontvang as hy eers aangesterk het na sy operasie.
Die aflewering was 'n reuse suskses, elkeen het terug by De Pakhuis sy/haar ervaring met almal gedeel. Ons het die dag afgesluit met 'n heerlike spitbraai.
Sondagoggend is ons almal na die "Khoisan Kitchen" waar die lekkerste plaas ontbyt op ons gewag het. Met al die magies vol het ons die pad gevat terug huistoe. Net toe ons dink die naweek is verby word ons verras met n besienswaardige toer van natuurskoon en 'n bietjie 4x4 vanaf Wuperthal deur eselbank. Almal het gegroet en pad gevat huistoe deur die Cederberge.
Baie dankie aan almal wat "wheels for wheels" moontlik gemaak het. Ons hoop om julle volgende jaar weer deel te maak van die wonderlike ervaring. Om meer uit te vind oor "Wheels for Wheels" kontak gerus Chrysler Jeep Dodge Century City. (021) 528 0600

Return
